Wie is Wie?
(Onderskeiding 5)

Dit is belangrik dat ons elke woord wat ons hoor of lees teen die maatstaf van die Bybel moet meet. Daarmee saam moet ons ook die bron van die inligting nagaan. Ons moet dus twee dinge nagaan: die boodskap en die boodskapper.

Baie keer hoor ons boodskappe wat ‘n punt presies oordra. Hierdie boodskappe mag selfs ook leerstellig korrek wees maar die spreker is ‘n bedrieër. Onthou dat die duiwel die waarheid aan ons sal aanbied, net om ons in die wip te vang. Geen Mormoon of Jehova Getuie sal aan ons deur klop en die gesprek begin deur ons daarop te wys dat hulle ‘n ander Evangelie of ‘n ander Jesus aan ons kom verkondig nie. Hulle sal begin deur te bevestig dat hulle presies dieselfde glo as wat ons glo. Die probleem is net, teen die tyd wat ons tot by die leuen gevorder het, is dit dikwels reeds te laat. Ons enigste verweer is om van die staanspoor af glad nie na selfs een enkele woord van ‘n persoon te luister, tensy ons hom eers deeglik ondersoek het nie. Mormone en Jehovas kan ons maklik erken aan hulle uiterlike voorkoms. Maar hoe erken ons iemand wat voorkom as ‘n evangeliese Bybelgelowige prediker? Hier is ‘n paar wenke.

Eerstens, wie is hy en waar kom hy vandaan? Met ander woorde, met wie hou hy gemeenskap en wie beïnvloed sy denke? Dit kan maklik vasgestel word deur sy persoonlike geskiedenis of cirricullum vitae na te gaan. Waar het hy sy opleiding ontvang? Waar hou hy gemeenskap? Met wie is hy in  verhoudings betrokke? Wie haal hy aan? Wie haal hom aan? Indien hy ‘n web-tuiste het, kyk gerus na die skakels wat hy beskikbaar stel en ondersoek daardie web-tuistes. Hierdie vrae sal dikwels baie omtrent die boodskapper openbaar. Dit is voor die hand liggend dat hy in sy verlede slegte skakels en verhoudinge kon gehad het en dat hy dit bely en afgelê het. Indien hy dit bely en afgelê het, het hy in die openbaar alle bande en gemeenskap met daardie leerstellings en gemeenskappe gebreek? Indien dit wel die geval is, moet sy verlede nie teen hom gehou word nie. Terselftertyd moet ons egter in gedagte hou dat daardie blootstelling wat hy gehad het, mag voortgaan om sy denke te beïnvloed en ‘n mens moet op die uitkyk wees daarvoor. “Slegte geselskap bederf goeie sedes” (1 Kor 15:33) en ‘n man kan geken word aan sy vriende.

Tweedens ‘n vraag wat nou saamhang met die eerste: Wat kwalifiseer hierdie persoon om ‘n onderwyser te wees? Hiermee bedoel ek nie of hy verorden is en die nodige papierwerk het nie. Die vraag is: wat gee hom die reg om vir jou enigiets te mag leer? Jy het nodig om vrae te vra oor hoe lank hy reeds ‘n gelowige is, hoe oud hy is, of hy ‘n goeie diensrekord het van diens aan die kerk en of hy nie net dalk ‘n dwarstrekker is wat homself nou as ‘n “profeet” uitgee nie? Staan hy onder die gesag van ander? Sedert ons die internet tot ons beskikking het, kan enige persoon wat nie saam met ander kan werk nie en wie ook geen begeerte het om in diens van die gemeentes te staan nie, vir homself ‘n sogenaamde bediening begin. Toon hierdie persoon enige bedrewenheid en inbors in die wyse hoe hy met die Skrif omgaan of is hy ‘n arbeider wat hom vir sy werk moet skaam (2 Tim 2:15)? Predik en leer hy die Woord getrou of is die basis van sy boodskappe stories, getuienisse en grappies? Laastens, daag sy boodskappe sy hoorders uit en bemoedig dit hulle terselftertyd, of sê hy net wat sy hoorders graag wil hoor sonder om aanstoot te wil gee (2 Tim 4:2)?

Waarskynlik die heel belangrikste kwalifikasie is sy lewe self! Hoeveel keer is hy al getroud? Het hy ‘n getuienis van betroubaarheid, eerlikheid, inbors en ‘n heilige lewe? Wat is sy houding teenoor geld en aardse besittings? Hierdie is maar enkele van die duisende vrae wat ‘n mens omtrent die vrugte van iemand se lewe kan vra. Jesus het gesê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?” (Mat 7:16) Met “vrugte” het Jesus nie verwys na die vrug op hulle arbeid nie (hoeveel boeke, bekeerlinge, ens.) nie, maar die vrugte van sy lewe. Wat het sy lewe opgelewer? Dink jy regtig dat as sy lewe dorings by die huis oplewer, hy druiwe in jou lewe gaan produseer? (1 Timoteus 3 en Titus 1 handel met verdere vrae wat jy nodig mag hê om te vra.)

Vierdens, wat glo hy? Hierdie begin nou al moeiliker raak want in alle waarskynlikheid sal hy die waarheid verskuil onder taalgebruik wat op die oog af reg voorkom. Somtyds kan die dwaling bespeur word deur versigtig die verklaring van sy geloof deur te gaan. Maar dikwels sal dit nodig wees dat jy baie versigtig moet lees en luister. Die internet mag dalk ‘n aanduiding gee van wat verkeerd kan wees, maar ons moet nie sommer enigiets aanvaar wat ons op die internet vind sonder dat die inligting en sy oorsprong behoorlik ondersoek word nie. Enige persoon kan enigiets op die internet publiseer en daar is baie wat hard werk en daarop uit is om ware en opregte bedieninge swart te smeer en oneer aan te doen. Lees egter versigtig dit wat omtrent die persoon gesê word en gebruik daardie inligting as ‘n aanwysing na wat om voor op te let in die persoon se leringe. Maar laat my toe om dit te beklemtoon: Inligting van onbekende bronne op die internet kan slegs as ‘n rooi vlag gesien word; dit kan nie vertrou word om enige persoon mee te aanvaar of af te wys nie. “Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun. As daar iemand na julle toe kom wat ‘n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie” (2 Joh 1:9-10).

In die vyfde plek moet ons die vraag vra: wat sê die getuies? In die derde artikel in hierdie reeks (Ortodoksie) het ons vasgestel dat ons na beide die geloofwaardigheid van die getuies en die inhoud van hulle getuienis moet kyk. Wie stem saam met hierdie man? As valse leraars, wat bekend is vir hulle valse leringe, net goed van hom praat, of as hy saam met hulle op dieselfde verhoog verskyn, dan kan jy maar weet dat hy waarskynlik self ‘n valse leraar is. Eweneens kan jy maar aandag gee as diegene wat reeds bewys is as dienaars van die lig, die persoon se leringe veroordeel.

Dit is hoekom dit belangrik is dat ons ons omring met mense wie ons kan vertrou vir raad en advies. Baie van die sogenaamde “onderskeidings” bedieninge het bybedoelings en hulle eie agenda, maar daar is ‘n paar wat ons kan vertrou dat hulle ‘n gebalanseerde en objektiewe evaluering van ‘n bepaalde bediening sal maak. Hierdie mense, wat die gawe ontvang het om wagter vir die kerk te kan wees, kan ons baie tyd en navorsing spaar. (In die volgende artikel sal ons die vereistes vir ‘n goeie onderskeidingsbediening kyk.) Gaan hulle web-tuistes en ‘blog’ spasies na vir waarskuwings omtrent spesifieke bedieninge, sprekers en skrywers. Die Here het van hierdie wagters gesê: “as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof” (Eseg 33:4 OAV).

In die sesde plek: Wat is sy agenda? Dit kan gebeur dat ‘n spreker of skrywer al die toetse kan slaag maar dat hy steeds die verkeerde agenda kan hê. Dit is dus baie belangrik om die dryfveer en motivering agter sy optrede te ondersoek. Is dit geld, sy ego of mag? Het hy ‘n appeltjie met iemand te skil of is hy verbitterd? Is hy daarop uit om te bewys dat hy reg is en dat al die ander mense verkeerd is? Kyk en luister versigtig en die motief vir sy optrede sal na vore kom. As hy nie deur ‘n liefde vir God, ‘n liefde vir God se Woord en ‘n liefde vir God se kinders gedryf word nie, dan het hy in alle waarskynlikheid niks om te sê nie. Toe Jesus vir Petrus opdrag gegee het, was daar net een vraag wat saak gemaak het: “het jy My waarlik lief?” (Joh 21:15-17 OAV) Indien die spreker nie ‘n liefde vir Jesus uitstraal nie dan word hy gediskwalifiseer, maak nie saak hoeveel hy weet nie (1 Kor 13:1-3).

Tensy jy in die posisie is om ‘n skrywer of spreker se bona fides te bevestig, moet jy niks van hulle ontvang nie. Baie min mense sal welwetend die duiwel uitnooi om in hulle gemeente te kom preek, maar tog is daar baie wat maar net te gewillig is om sy afgevaardigdes en boodskappers toe te laat om in sy plek te praat. “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is” (1 Joh 4:1).