Verstaan die Bybel
(Onderskeiding 2)
 

Baie mense sal met ons saamstem dat die Bybel die gesaghebbende Woord van God is. Die probleem ontstaan egter dikwels in die wyse hoe dit uitgelê word. Hoe kan ons verseker weet dat ons die Bybel reg verstaan?
 
Wanneer ons waarheid en dwaling wil onderskei, moet ons begin deur eers self die Waarheid te verstaan. Dit gebeur dikwels dat mense probeer om die Waarheid te ontdek deur die dwalinge van ander te analiseer en te ontleed. Dit is doodeenvoudig nie die manier om te werk te gaan nie. Wanneer ons dit op daardie manier probeer doen, is dit dieselfde as wat iemand sy motorvoertuig vorentoe wil stuur terwyl hy in die truspieël kyk. Netso is daar geen manier wat jy sal kan sien waarheen jy gaan, deur net te kyk waar ander verkeerd gegaan het nie. Daarom, voordat ons eers kan begin om die dwalinge van ander uit te wys, moet ons baie seker wees wat dit is wat ons glo. Ek stem saam dat daar baie is wat daartoe oorgehaal word om die waarheid te bestudeer wanneer die een of ander dwaling kop uitsteek. Maar jy kan slegs die waarheid omtrent die een of ander saak leer deur die Bybel te bestudeer. Jy gaan dit verseker nie regkry deur die foute van ander te ontleed nie. Wat moet ek dus doen om te kan verstaan?

Eerstens moet ek tot God bid vir wysheid. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en verwyt” (Jak 1:5). Dieselfde Gees wat die mense geïnspireer het om die Bybel te skryf (2 Tim 3:16, 2 Pet 1:21), is ook daar om ons te help om dit wat opgeteken is, te verstaan. Die Bybel is nie ‘n akademiese boek wat slegs deur middel van die intellek bestudeer kan word nie. Ja, die Bybel is ‘n logiese en diep intelektuele Boek, maar dit is allereers ‘n geestelike boek waarin God met Sy mense praat. Dit is dan ook Sy Gees wat ons “in die hele waarheid lei” (Joh 16:13) deurdat Hy aan ons leiding gee, vir ons die weg wys en vir ons raad gee. Om die Bybel te bestudeer is beide ‘n akademiese sowel as ‘n geestelike oefening. Indien ons dit “geestelik” sou lees sonder dat ons logika en gesonde verstand gebruik, dan sal ons nie die Waarheid ontdek nie. Aan die ander kant, indien ons dit as akademiese literatuur sou bestudeer sonder die Gees se hulp, dan gaan ons verseker in dwaling verval. Bid elke keer Dawid se gebed as jy die Woord van God oopmaak: “Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van U wet ervaar” (Ps 119:18).

Tweedens moet die leser in die regte verhouding met die Here staan. Indien ons ongehoorsaam is, in rebellie is of met moedswillige sondige gewoontes volhard, dan sal ons altyd net dit in die Bybel lees wat ons wil hê daar moet staan. Dit is een van die gevaarlikste maniere om die Woord van God te hanteer. Wanneer lesers van die Bybel na die Woord draai om hulle ongehoorsaamheid of sonde te regverdig, het dit menigmaal al gelei tot die “ontdekking” van dwalinge. Indien die Here besig is om jou te oortuig dat iets verkeerd is, moet jy eers aan Hom gehoorsaam wees, anders gaan jou lees en verstaan van die Bybel altyd verwronge wees en sal jy nie duidelik kan sien wat God vir jou deur Sy Woord wil sê nie. Dawid was in die posisie waar hy kon sê: “Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam U bevele” (Ps 119:100). Gehoorsaamheid lei tot insig terwyl ongehoorsaamheid tot dwaling aanleiding gee.

Derdens moet ons gewillig wees om van ons standpunte en oortuigings af te sien indien daar bewys word dat ons verkeerd is. Wanneer ons vooroordele en vooropgestelde idees sterker is as ons logiese denke, is dit onvermydelik dat ons ‘n verwronge insig in die Skrif gaan hê. Ons is geneig om die invloed en mag wat tradisie en vooropgestelde idees het om ons van insig in die waarheid te weerhou, grootliks te onderskat. Ons tradisies en gebruike is deurgaans die bril waardeur ons lees en waarmee die leringe van die Bybel vir ons ingekleur word. Dink net aan die betekenis van die woord “kerk”. Elke persoon wat lees, het selfs nog voor hulle begin lees, reeds ‘n vasgestelde idee van wat die woord beteken. Daarom sal die een, wanneer hy lees, die Rooms Katolieke kerk sien, of enige van duisende ander denominasies. ‘n Ander sal weer ‘n fisiese gebou sien wat opgerig is ooreenkomstig ‘n sekere patroon. Vir ‘n ander weer is dit twee of drie gelowig wat saamstem en in die Naam van Jesus vergader. Dieselfde woord, maar baie verskillende betekenisse. Slegs een kan korrek wees!

Paulus sê: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor 3:18). Wanneer hy verwys na die sluier wat van ons gesig weggeneem is, verwys hy na die sluier wat Israel oor Moses se gesig geplaas het ten einde die heerlikheid en glorie van God se openbaring te demp. Dit het hulle gedoen sodat hulle dit kon ontvang op ‘n wyse waarmee hulle meer gemaklik was. Ons moet egter na die Woord kom sonder enige filter of sluier. Ons moet bereid wees om met ‘n oop gesig ten volle ontvanklik te wees vir die volle skok van God se openbaring. Moses het deur dieselfde openbaring ‘n gedaanteverandering ondergaan en daardeur vir Israel verblind. Kom na die Woord ten volle ontvanklik en jy sal daardeur verander word. Indien jy egter sou probeer om ‘n sluier daaroor te trek, dit te beperk of dit te verander, dan sal dit jou blind maak (2 Kor 3:14).

Partykeer is dit nodig dat ons dit wat ons ten opsigte van ‘n bepaalde onderwerp glo, vir ‘n wyle op ys te plaas terwyl ons ‘n in-diepte studie in God se Woord doen oor die betrokke onderwerp. Indien ons dit nie gaan doen nie, gaan ons slegs voortgaan om op skewe en krom fondamente te bou. Ek het dit ontsettend waardevol gevind om gedurende verskillende stadiums in my lewe, al my ervaring, opleiding, gebruike en tradisies daadwerklik op ys te plaas terwyl ek daarna soek om ‘n bepaalde onderwerp weer van voor af te verstaan. Dit is net ‘n dwaas wat op die verkeerde pad sal volhard sonder om van tyd tot tyd seker te maak of hy inderdaad op die regte pad is. Selfs Paulus het nodig gehad om seker te maak (Gal 2:2).

In die vierde plek moet ons besef dat ons altyd eerste na die Bybel moet draai. Baie mense sal eerste die mening van ‘n leraar of guru vra of na ‘n Bybelkommentaar of selfs die internet gaan, voordat hulle eers daaraan dink om hulle Bybel oop te maak. Sommige sal selfs net hierdie bronne gebruik en nooit by die Bybel uitkom nie. Indien ons enige bron buite die Bybel raadpleeg voordat ons die Bybel raadpleeg, sal dit ongelukkig altyd ons denke en verstaan nog verder beïnvloed en kleur. Ten einde ‘n bepaalde onderwerp te kan verstaan, moet jy met behulp van ‘n goeie konkordansie (verkieslik gerekenariseerd) elke gedeelte en pasasie in die Bybel opsoek wat met die betrokke onderwerp handel. Dan moet jy hierdie gedeeltes lees – nie net die bepaalde teksverse nie, maar die hele gedeelte in konteks. Maak notas van daardie gedeeltes wat ‘n spesifieke punt bewys. Eers as jy die hele Bybel (Ou en Nuwe Testament) met betrekking tot daardie spesifieke onderwerp gelees het en al die inligting wat daarmee saamhang uit die Bybel versamel het, kan jy enigsins begin om enige afleidings te maak of tot gevolgtrekkings te kom. Eers dan, nadat die Skrif bestudeer is en gevolgtrekkings daaruit gemaak is, kan ‘n mens na ander bronne en kommentare draai.

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry” (2 Pet 2:2). Dit is die suiwer melk wat maak dat ons groei. As dit deur woorde, gedagtes en menslike tradisies en gebruike verdun word, is dit nie meer suiwer nie. As dit met ‘n suikerlagie bedek word wanneer die prediker dit in mooi woorde en stories verweef, dan is dit nie meer suiwer nie. Wat ek hier neerpen, is nie die suiwer melk van die Woord nie. Dit is bloot net my idees en gedagtes wat gebaseer is op die Woord. En alhoewel my gedagtes sommige mag help om ‘n paar dinge beter te verstaan, kan dit nooit dieselfde effek hê as wanneer jy self die Bybel lees, bestudeer en verstaan nie.

Laastens is dit belangrik om te onthou dat ons die Skrif moet bestudeer met ‘n spesifieke doel voor oë. Hierdie oogmerk is nie die vermeerdering van ons kennis, om iemand anders verkeerd te bewys of om ons eie optrede te regverdig nie. Die enigste geldige beweegrede vir die bestudering van die Skrif, is om God toe te laat om met ons deur Sy Woord te praat. Die lees en bestudering van die Bybel is allereers hoofsaaklik ‘n persoonlike saak. Die Here gebruik nie die Bybel om met ander deur ons te praat nie, tensy ons eerste gehoor het dat Hy met ons praat. Ons kan dit net nader met bewende hande en met die gebed van Samuel op ons lippe: “Praat, Here, u dienaar luister!” (1 Sam 3:10). Dit is eers wanneer ons werklik wil hoor ten einde te gehoorsaam, dat die waarheid vir ons sal ontvou.

Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Mat 7:7-8).