Om te Leun

Toe Dawid die straf en vloek oor Joab uitgespreek het na die moord van Abner, het hy onder andere gesê dat daar altyd iemand van Joab se familie sal wees wat op krukke sou loop. Hierdeur het hy bedoel dat daar altyd ‘n kreupele sal wees of iemand met swak bene wat die ondersteuning van ‘n kierie nodig sou hê (2 Samuel 3:29). Levitikus 21:18 verbied enige persoon met ‘n liggaamlike tekortkoming om offers te bring by die Here se altaar en gevolglik is kreupeles as onrein geklassifiseer.

Dit is voor-die-hand-liggend dat in ‘n tyd toe stap die oorwegende vorm van vervoer was, dit ‘n veel erger straf was om kreupel te wees, as wat dit vandag sal wees. Teen hierdie agtergrond lees ons van die sterwende Jakob wat op die knop van sy kierie geleun het (Hebreërs 11:12). Jakob was kreupel omdat hy met die Here geworstel het waarna die Here sy heup aangeraak het (Genesis 32:32). Daarom, wanneer die Hebreërs skrywer daarna verwys dat Jakob op die knop van sy kierie geleun het, wil hy ons daaraan herinner dat Jakob ‘n kreupele was.

Die vraag is hoekom die Here vir Jakob ‘n kreupele gemaak het in omstandighede waar dit sulke geweldige geestelike en praktiese implikasies gehad het. Ek glo dat dit was sodat Jakob moes leer om op sy kierie te leun en van God afhanklik te wees, en om nie in sy eie vermoëns te vertrou nie. In daardie dae het mans nie net op hulle voete en bene vertrou om hulle van die een plek na die volgende te neem nie, maar dit moes hulle ook in die oorlog en in hulle daaglikse werk ondersteun het. Maar “die Here het niks aan die krag van 'n perd of die liggaamskrag van 'n soldaat nie” (Psalm 147:10). Gevolglik stel die mens sy vertroue presies in dit wat die Here geen behae in het nie want dit is wat die mens selfvoorsienend maak en nie afhanklik van die Here nie. Selfs vandag nog praat ons van iemand wat op sy eie twee voete staan, bedoelende dat hy selfvoorsienend en onafhanklik is. Hierdie mag miskien ‘n baie goeie karaktertrek in die wêreld wees, maar vir die ware gelowiges geld die teenoorgestelde. Alhoewel Salomo nie sy eie raad gevolg het nie, het hy gewaarsku: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie” (Spreuke 3:5).

Die Here wou gehad het dat Jakob die dag van sy ontmoeting met die Here vir altyd moes onthou. Hy moes egter ook besef dat sy seëninge nie die gevolg is in van sy eie slimmighede, planne en vermoëns nie, maar dat dit van die Here gekom het. Daarom, terwyl dit ‘n vloek, ‘n ernstige gebrek en ‘n klad op sy naam was om ‘n kreupele te wees, was dit vir Jakob die bron van sy krag en seëninge wanneer hy, as gevolg daarvan, op die Here geleun het.

Ongelowiges maak ‘n bespotting van Christene wat in God glo omdat hulle dan nou sogenaamd “’n kruk nodig het”. Die probleem is egter dat ons almal ‘n kruk nodig het, maar daar is baie min wat dit besef. Ander het ook krukke of kieries waarop hulle leun, maar hulle herken dit nie vir wat dit werklik is nie. Sommige leun op terapie, dwelms, medisyne, alkohol, vriende en duisende ander vorme van ondersteuning. Die probleem is egter dat hierdie ondersteuning swak en oneffektief is. ‘n Riet is ‘n baie swak maar misleidende ding. Dit is net soos ‘n karton buis wat op die oog af baie sterk lyk en waarop iemand inderdaad kan leun, maar dit breek sonder enige vooraf waarskuwing. Wanneer ‘n riet breek, versplinter dit in ‘n tientalle vlymskerp stukkies. Om op ‘n riet te leun kan daarom baie gevaarlik wees want alhoewel dit jou dalk vir ‘n wyle sal ondersteun, gaan dit breek en jou hande sny die oomblik wat jy druk daarop uitoefen. Enige ondersteuning anders as die Here, is soos ‘n riet wat, alhoewel dit op die oog af bruikbaar lyk, jou gaan seermaak net wanneer jy dit op sy nodigste het.

Israel het op ‘n stadium hulle vertroue in die militêre mag van die Egiptenare gestel eerder as om op die Here te vertrou. Selfs die heidense koning het hulle hieroor gespot: “Jy vertrou op Egipte, op 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou” (Jesaja 36:6).

Ons kan onsself gevolglik in een van die volgende drie posisies bevind. Ons kan óf dink dat ons dit gemaak het en dat ons op ons eie twee voete staan, óf ons leun op iets anders as die Here, óf ons leun inderdaad op die Here. Daar is baie min mense wat in die laaste kategorie val. Maar die ware kind van die Here het geen ander keuse nie. Hy is die enigste ondersteuning wat ons in swaar tye kan staande hou en wat ons nie in die steek sal laat nie.

Vir die wêreld mag hierdie dalk ‘n teken van swakheid wees, maar vir die gelowige is die Here die enigste bron van ware krag en ondersteuning. Daar is ongelukkig baie wat dink dat hulle nie nodig het om op die Here te steun nie. Jakob het gedink dat hy alles volgens plan uitgewerk het. Hy het geweet hoe om die sisteem te speel en binne ‘n paar jaar was hy ryk en welvarend. Die oomblik egter toe hy sy broer in die oë moes kyk, toe besef hy dat hy die Here nodig het. Jy mag dalk ook dink dat jy in beheer van jou lewe is en dat jy alles kan hanteer wat na jou kant kom, maar die een of ander stadium gaan jy voor ‘n krisis kom wat jou van balans gaan gooi. Dan gaan jy oor alles val om die Here te vind en begin om op Hom te leun. Dis tragies, maar selfs in krisistye is daar sommige wat steeds botweg weier om op die Here te leun. In hulle trots sal hulle eerder kruip as om op die Almagtige te leun.

Daar kan geen groter seën in die lewe wees as juis die besef dat ons swak is en dat ons nodig het om op die Here te leun nie. Hy is die enigste Een wat ons nooit in die steek sal laat, ons sal teleurstel of ons sal faal nie. Dawid het gesê: “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:4 OAV). Ons is dikwels gefrustreerd met mense wat behoeftig is en te veel van ons vereis, maar die Here wil juis hê dat ons op Hom moet leun. “Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14 OAV).

What a fellowship, what a joy divine,

leaning on the everlasting arms;

what a blessedness, what a peace is mine,

leaning on the everlasting arms.

 

Leaning, leaning,

safe and secure from all alarms;

leaning, leaning,

leaning on the everlasting arms