Is Jy Besny?


Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek” (Genesis 17:14).

Die verbond wat God met Abraham gemaak het was ‘n eensydige verbond wat beteken dat al die voorwaardes en vereistes vir die vervulling van die verbond, God se verantwoordelikheid alleen was. Om die waarheid te sê, Abraham het geslaap toe die verbond gemaak is (Genesis 15). Maar God het een ding van Abraham en sy afstammelinge vereis en dit is dat hulle die teken van die verbond in hulle vlees moes dra – die besnydenis.

Die besnydenis herinner elke manlike Jood voortdurend daaraan dat hy anders is en dat hy ‘n begunstigde is van God se seëninge deur die verbond met Abraham. Hierdie klein rolletjie wat die Israeliete moes speel in hierdie verbondsooreenkoms is amper ‘n negeerbare bydrae tot die geheel van die verbond. Tog, indien hulle sou nalaat om aan hierdie klein detail te voldoen, sou hulle die verbond verbreek en gevolglik afgesny word.

God het nie voor die verbond vir Abraham gesê om homself te besny nie. Die besnydenis was ook nie ‘n voorwaarde waaraan voldoen moes word voordat die verbond tot stand sou kom nie. God het die verbond eensydiglik gemaak. Nadat die verbond tot stand gekom het, het Hy Abraham aangesê om hom te besny. Die besnydenis is dus ‘n gevolg van die verbond en dien as bewys van die verbond. Die besnydenis is nie ‘n vereiste vir ‘n Israeliet om deel van die verbond te word nie, maar dit is nodig ten einde ‘n begunstigde onder die verbond te bly. Alhoewel die besnydenis hoofsaaklik as ‘n teken van die verbond dien, simboliseer dit ook reinheid en heiligheid (Jesaja 52:1; Levitikus 19:2). Dit verbind dus God se verbond en seëninge, met ‘n vereiste vir heiligheid.

Dieselfde beginsel is toegepas toe die Wet gegee is. God het Israel eers uit Egipte gebring, en nadat Hy hulle na Homself gebring het (Eksodus 19:4), het Hy vereis dat hulle heilig moes lewe. Weereens het Hy nie die heilige lewe ‘n voorwaarde vir hulle bevryding gemaak nie maar dit het uit die bevryding voortgevloei en was ‘n teken daarvan.
Die vraag is daarom: As jy ‘n Christen is, is jy besny?

Moenie vinnig wees om my daaraan te herinner dat die besnydenis in die Ou Testament tuishoort nie. Is jy seker? Ons is somtyds heeltemal te vinnig om Ou Testamentiese gebruike te verwerp sonder om aandag te gee aan die betekenis van daardie gebruike. Voordat jy my daarvan beskuldig dat ek wetties is, laat my toe om jou daaraan te herinner dat daar vir elke fisiese gebruik, wet en gewoonte van die Ou Testament, ‘n geestelike eweknie in die Nuwe Testament is.

Christene behoort ook besny te word - nie fisies nie maar geestelik: “Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens” (Kolossense 2:11). Net soos die fisiese besnydenis die getuienis is van ‘n verbond en heiligheid, moet gelowiges hulle harte besny as getuienis van die Nuwe Verbond en gevolglike heiligheid. “Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God” (Romeine 2:28-29).

Die Ou Testament praat van hoofsaaklik twee plekke wat ons moet besny: ons harte en ons ore. Stefanus het dan ook die godsdienstige Jode berispe omdat hulle “onbesnedenes van hart en ore” was (Handelinge 7:51 OAV).

Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie” (Jeremia 6:10 OAV). Ore wat besny is hoor, ontvang en verstaan die Woord van God terwyl dit nie die geval is as die ore nie besny is nie. Is jou ore besny? Hoor jy die Woord van die Here of is jy soos die Jode van Jeremia en Stefanus se tyd wat nie kon hoor of geestelike dinge kon verstaan nie? ‘n Teken van wedergeboorte is ‘n honger na God se Woord en die vermoë om dit te hoor en te verstaan. Dit is ‘n groot bron tot kommer wanneer sogenaamde gelowiges nie in staat is om God se Woord te hoor of te ontvang nie.

‘n Onbesnede hart spreek van rebellie, hard-vogtigheid en ‘n stywe nek. “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie” (Deuteronomium 10:16 OAV). Net soos onbesnede ore, is ‘n opstandige gees en ‘n onvermoë om aan die Here onderdanig te wees, getuienis dat daar nie wedergeboorte was nie. Mense wat hulle daarop roem dat hulle “vry denkers”, “onafhanklike geeste” of enige van die ander dinge is wat deur mooi terme verbloem word om die rebellie goed te laat klink, bely egter daardeur dat hulle nie die getuienis van die Nuwe Verbond het nie.

In Levitikus 26:41 roep die Here Israel op om hulle onbesnede harte te verneder sodat Hy die beloftes wat aan hulle vaders gemaak is, kan vervul. Daar is geen twyfel dat die Here vandag ook hierdie oproep aan die kerk maak sodat ons kan deel in die seëninge wat Hy ons belowe het nie.

Abraham is op die ouderdom van 99 jaar besny (Genesis 17:23). Besnydenis op daardie ouderdom moes ‘n baie pynlike ervaring gewees het, tog was hy gehoorsaam. Netso gaan dit dalk ook pynlik wees om jou opstandige gees voor die Here neer te buig of om te breek met jou onheilige lewenswyse. Maar dit is wat die Here vereis van almal wat die ware kinders van God is en deelneem in die verbond en seëninge. Dit kom voor dat dit ‘n baie klein prys is om te betaal.

Besnydenis is nie net ‘n teken van die neerlê van die negatiewe dinge nie, maar dit getuig ook van die aangryp van die positiewe dinge. “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie” (Filippense 3:3).

Hoor jy die Here se Woord? Is jy nederig en onderdanig voor Hom? Aanbid jy Hom in die Gees? Vind jy vreugde in Jesus en het jy alle vertroue in die vleeslike dinge afgelê? Indien wel, dan is jy besny en deel jy in die seëninge van God.