Hoe groot is jou wêreld?
 

Die laaste paar opdragte wat Jesus aan Sy volgelinge gegee het, handel daarmee dat hulle getuies moet wees en die evangelie na die hele wêreld moet neem (Mat 28:18-20; Hand 1:8).

Daar kan absoluut geen argument wees dat alle gelowiges die verantwoordelikheid het om deel te neem in die verspreiding van die evangelie buite die grense van hulle gemeenskappe, dorpe en stede (Jerusalem), hulle streke (Juda) en hulle eie volk en kultuurgroep (Samaria) tot aan die eindes van die aarde nie. Tog is daar maar min wat hierdie opdrag ernstig opneem. Gevolglik het ons na twee duisend jaar nog steeds nie die hele wêreld bereik nie. Daar is steeds streke waar die evangelie nog nooit verkondig is nie en daar is dus mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie.

Een van die vrae wat dikwels deur mense gevra word is hoe God daardie mense sal oordeel wat nie die evangelie gehoor het nie? Dit is nie die regte vraag nie. Die vraag moet wees: “Waarom het almal nog nie die evangelie gehoor nie?” Die antwoord op hierdie vraag is baie maklik: “ Want ons was nie gehoorsaam aan die Groot Opdrag nie.” Ja, daar is enkele getroues wat gegaan het daar waar die meeste Christene nie self sal gaan nie en ook nie diegene sal help wat getrou is om wel te gaan nie.

Dit bring ons by die vraag: “ Hoe groot is jou wêreld?” Ek raai dat dit vir die oorgrote meerderheid van die Christene ‘n wêreld is wat by hulle self eindig. Dit strek nie eens tot by hulle eie familie nie, vergeet maar van hulle bure, dorp, streek of enigiets vêrder. Selfs vir die “bogemiddelde” Christene is hulle wêreld niks groter as hulle kerkgemeenskap nie. Dit is reeds groot vordering vanaf die self, maar dit strek nog nie eens so ver soos die grense van hulle gemeenskap (dorp) wat maar die eerste aantree punt is.

Die eerste gelowiges in Jerusalem het ten minste tot buite die grense van hulle eie stad gegaan, maar niks vêrder nie. Vir ‘n hele aantal jare het hulle wêreld by Jerusalem geëindig en het hulle vergeet dat hulle geroep was om ook buite die stadsgrense te gaan. God het toe besluit om hulle aan hierdie verpligting te herinner en Hy het aan hulle die wekroep in die vorm van vervolging gestuur. Die gevolg was nie dat hulle net ‘n paar sendelinge gestuur het nie, nee, elke lid van die kerk was gedwing om vanuit Jerusalem te vlug – na Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde! Wat hulle in ‘n paar jaar nie kon vermag nie, het hulle skielik binne ‘n week gedoen (Hand 1:8).

Kan jy jou indink wat sal gebeur as die Here besluit dat Hy nou genoeg gehad het van die kerke met hulle louwarm ingesteldheid wanneer dit by evangelisasie en sending kom? Wanneer Hy die een of ander ramp stuur en al die lidmate van die gemeente dwing om na ander dele van die wêreld uit te wyk? Indien dit sou gebeur sal dit verseker nie aangenaam wees nie. Aan die ander kant is dit ook ‘n feit dat ons ongehoorsaamheid nie die Here se program in die wiele sal of kan ry nie. As ons nie gewillig is om met die Here saam te werk nie, kan Hy ons óf al skoppende en skreeuende saamvat óf Hy kan ons net doodeenvoudig agterlaat en ander roep wat Sy meegevoel met die verlorenes deel.

Laasgenoemde sal eerder gebeur. Ek het al te veel kerke gesien wat God se seëninge verloor en uiteindelik gesterf het weens hulle onwilligheid om hulle wêreld groter te maak as dit wat by hulle self eindig. In ‘n sekere opsig is dit presies wat met Jerusalem gebeur het. God het inderwaarheid die kerk vernietig want oornag het hulle getalle verminder van 10 000 tot ‘n skamele 12. Daarna het Hy begin om die kerk te herbou, nie met die oorspronklike lidmate nie maar ‘n heel nuwe gemeente. Wil jy graag hê dat dit met jou gemeente moet gebeur? Ek dink nie so nie.

Die rede hoekom jy is waar jy is en hoekom die kerk steeds op die aarde is, is nie sodat ons klein geseënde kringetjies kan hê nie, of selfs om die Here te aanbid nie. Die kerk is steeds in hierdie wêreld vir net een rede en dit is om die evangelie te verkondig en om die verlorenes vir Christus te wen. Aanbidding, samesyn, gebed, Bybel studie en enige ander faset van die kerklewe kan veel beter in die hemel gedoen word as hier op aarde. As kerk-wees slegs oor onderlinge samesyn en ‘n wandel met God gegaan het, dan kon die Here ons netsowel almal weggeraap het. Maar daar is een ding wat nie in die hemel gedoen kan word nie - die verlorenes kan nie bereik word nie (want daar is nie enige verlorenes daar nie). Gevolglik is die feit dat daar nog verlore siele is wat bereik en gered moet word, die enigste rede hoekom die kerk nog nie van die aarde weggeraap is nie. Petrus verduidelik die rede hoekom die Here nog nie teruggekom het nie: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet 3:9).

Evangelisasie en sending is nie ‘n opsionele ekstra wat jy kan kies om by jou program in te sluit wanneer jy daarvoor lus voel nie. Dit is rede vir ons bestaan, beide persoonlik en as ‘n gemeente. Indien ons die ongereddes uit die oog sou verloor, dan het ons die reg vir ons bestaan verloor. Laat my daarom toe om ‘n paar vrae te vra:

Sommige Christene is so op hulle eie gemak, posisie en self ingestel dat hulle dit nie kan verdra dat nuwe mense na hulle kerk kom nie, want dit mag dalk net hulle knussige wêreld omkrap. Sulke mense het nie net geen hart vir die verlorenes nie, maar hulle werk ook teen daardie wat wel die evangelie verkondig. Wat egter erger is, is dat hulle nie net God se direkte opdrag verontagsaam nie, maar dat hulle Hom ook verhinder wanneer Hy werk. Kan jy jou indink wat Hy aan die persone gaan doen wat gekies het om eerder met die duiwel saam te werk as met God?

Daarom, hoe groot is jou wêreld? Strek dit vêrder as jou sitkamer, TV en “seën-my-asseblief” klub? As jou wêreld nie jou hele dorp, stad, streek en al die mense insluit wat nie tot jou groep, taal of kultuur behoort nie, en indien dit nie strek tot aan die mees afgeleë grense van die wêreld nie, dan is jy baie klein en bitter arm. Laat my laastens toe om te vra: Jesus het aan jou persoonlik ‘n opdrag gegee - wat doen jy, of wat gaan jy doen om uit te reik na ‘n wêreld wat oppad is hel toe?

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Mat 28:18-20)

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand 1:8)