Getrouheid

Die verhaal van Dawid en Jonatan se vriendskap is van die mees aangrypende gedeeltes in die Bybel. Hierdie twee mans was ware vriende en een van die kenmerke van daardie verhouding was hulle wedersydse getrouheid en lojaliteit.

Jonatan was veronderstel om die troonopvolger in Israel te wees aangesien hy Saul se seun was. Tog het hy geweet dat die Here vir Dawid gekies het om sy plek op die troon in te neem (dit was nie as gevolg van ‘n fout aan Jonatan se kant nie maar die gevolg van sy vader se sondes). Desnieteenstaande die feit dat Jonatan al die redes in die wêreld gehad het om Dawid te haat, het hy aan Dawid getrou gebly en selfs teen sy eie vader vir Dawid kant gekies ten einde Dawid te beskerm en te ondersteun.

Dawid, aan die ander kant, was absoluut getrou aan Jonatan. Na Jonatan se dood het Dawid ‘n soektog na Jonatan se oorlewende afstammelinge op tou gesit. Toe hy Jonatan se seun, Mefiboset gevind het, het hy die jong kreupele met seëninge en voorregte oorlaai. Op hierdie manier het hy sy lojaliteit aan Jonatan voortgesit, selfs nadat Jonatan reeds dood was.

As ek die gedeelte lees is die getrouheid waarmee Dawid se manne hulle leier gedien het my elke keer tot seën. Omdat hulle so getrou was aan hom het elkeen van hulle telkens hulle lewens ter wille van hom in gevaar gestel. Tog is een van die hartseerste verhale in Dawid se lewe, die dislojaliteit van sy eie seun. Absalom het ‘n rebellie teen sy vader opgestook en gelei en hy was net lojaal aan een, homself. Dit is die verskil tussen Dawid, sy vriende en Absalom. Dawid en sy vriende was getrou aan mekaar en sou eerder gesterf het as om ontrou te wees. Absalom was net getrou aan sy eie planne en ego.

Ek is persoonlik van mening dat die belangrikste aspekte van ‘n verhouding, lojaliteit en eerbaarheid is. Sonder hierdie twee dinge in ‘n verhouding kan niemand verder as oppervlakkige kennisse vorder nie. Die probleem is egter dat die meeste mense lojaliteit en trou van ander verwag terwyl hulle net getrou is in omstandighede wat dit hulle pas. Dawid en Jonatan se lojaliteit het verder gestrek as dit wat gerieflik was en hulle het ten spyte van die koste, aan mekaar getrou gebly. Van al Jesus se vriende het net Johannes tot by die kruis getrou gebly. Ons het almal die kus van die verraaier al in ons lewens gevoel. Tog kan die vraag gevra word of ons getrou is aan ons vriende, ons kerk en bowenal, aan die Here?

In die eerste plek moet ons getrou bly binne ons huwelike. Wanneer huweliksmaats mekaar teenoor buitestaanders slegmaak, is dit ontrou. Lojaliteit vereis van ons dat ons ons huweliksmaats in alle omstandighede moet verdedig, selfs al is ons bewus van hulle tekortkominge. As huweliksmaats nie deur dik en dun aan mekaar getrou kan bly nie en mekaar tot die dood kan beskerm nie, hoe kan hulle dan aan enige ander persoon getrou wees? Ek wonder dikwels hoe dit moontlik is dat mense bymekaar kan bly in omstandighede waar hulle nie absoluut getrou is en mekaar beskerm nie, maar mekaar eerder bedrieg en verraai.

Broers en susters moet getrou wees aan die ander lede van die kerkgemeenskap. As ons nie aan die kerk getrou is en vir mekaar op die uitkyk is en mekaar beskerm nie, wie anders gaan dit doen? Dit is interessant dat die ongelowiges dikwels meer getrou is aan hulle klub, militêre eenheid of land as wat die Christene aan die kerk is. Dit beteken nie dat ons nie van kerkgemeenskap kan, of somtyds moet verander nie. Partykeer is ons verplig om te verander omdat die Here ons daartoe lei. Maar vir solank ons ‘n lid is van ‘n spesifieke groep gelowiges, moet ons getrou en lojaal aan daardie gemeente bly.

Lojaliteit beteken opoffering. Dit beteken dat ons somtyds iets moet doen wat reg is vir die persoon of die groep ten spyte van die feit dat dit nie vir ons gerieflik is nie. Soldate lê hulle lewens af vir hulle land of hulle eenheid, maar in ‘n oogwink sal ons mekaar verloën, ontken of selfs teen mekaar opstaan. Dawid en Jonatan het baie persoonlike opofferings gemaak ten einde getrou aan mekaar en hulle vriendskap te bly. En toe “die hele Israel weggetrek [het] van Dawid af agter Seba seun van Bikri aan, [het] Juda ... hulle koning ... gevolg” (2 Samuel 20:2).

Om getrou te wees, beteken dat ons ons vriende beskerm. Dit beteken dat ons nie na skinderstories oor hulle sal luister of skinderstories oor hulle sal versprei nie. Dit beteken nie dat ons blind vir mekaar se foute moet wees nie. Dit beteken wel dat ons nie ander ons steun sal toesê wanneer hulle ons vriende wil beskuldig of wil aanval nie. Dit mag nodig wees dat ons ons vriende in afsondering moet nader en aanspreek, of selfs moet betig, maar wanneer beskuldigings gemaak word teenoor diegene aan wie ons getrou is, moet ons hulle beskerm. As ons sou saamstaan met die aanklaers wat ons vriende wil vernietig of tot ‘n val wil bring, dan is ons ontrou.

Getrouheid beteken dat ons ons beloftes gestand moet doen. Ons almal onthou die belofte van getrouheid wat Petrus in die bokamer aan Jesus gemaak het. Tog het daardie belofte enkele ure later soos mis voor die son verdwyn. Dawid het nooit sy beloftes teenoor Jonatan vergeet nie en hy het hulle gehou, ten spyte van die feit dat Jonatan reeds dood was en Dawid maklik kon redeneer dat dit nou nie meer saak maak nie.

Getrouheid beteken dat ons dalk moeilike besluite sal moet neem. Die keuse wat Jonatan tussen sy vader en Dawid moes maak, was ‘n baie moeilike een. Dit is ongelukkig so dat dit deel is van ons lojaliteit teenoor iets of iemand dat ons somtyds die keuse moet maak van waar ons lojaliteit lê. Dit mag behels dat ons een bo ‘n ander moet kies. Jesus het gesê: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Mat 6:24). Die flieks vertel glansryke stories van spioene en geheime agente. Maar ek dink dat dit seker die laagste vorm van lewe is om ‘n dubbele agent te wees wat aan niemand en niks getrou is nie en beide lande sal verraai.

Om getrou te wees beteken dat iemand anders se belange swaarder weeg as ons eie. Op ‘n dag het Dawid gesmag na die water vanuit die put in Betlehem. Drie van sy vriende het hulle lewens gewaag toe hulle deur die vyand se linie gebreek het en vir hom van die water gebring het. Dit is nou getrouheid. Dit was nie iets van nasionale belang of ‘n belangrike teologiese kwessie nie, nee hulle wou slegs die beste vir hulle vriend gee en hulle het hulle lewens daarvoor op die spel geplaas.

Getrouheid beteken dat ons nooit ons vriende sal versaak nie. In Jesus vind ons die heel beste voorbeeld: “God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5).

In ‘n wêreld gevul met selfsug en eie belang, het ons nodig om lojaliteit teenoor familie, vriende en die kerk te herontdek. Bo alles het ons nodig om getrou te wees aan God en ons Verlosser: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron 16:9).