Erger as Sodom? 

‘n Sinsnede in hierdie week se Time Magazine wat verwys het na iemand wat die ‘politieke verpersoonliking’ is van die mega kerk benadering, het my oog gevang: “Kry die mense deur die deur met rock musiek, cappuccino of komedie – maar kry hulle deur die deur.” Die artikel gaan dan verder deur die Speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers aan te haal wie gesê het dat die politiek, godsdiens en vermaaklikheidswêreld alles oor dieselfde ding gaan – om mense deur die deur te kry.

Dit pla my dat die wêreld nie meer onderskeid tref tussen die kerk, die politiek en die vermaaklikheidswêreld nie, en dat dit selfs vir die ongelowiges duidelik is dat die evangelie goedkoop gemaak en onteer word. Ek was steeds in ‘n stryd gewikkel om hierdie dinge te verwerk, toe die aand nuus berig het oor ‘n massiewe advertensie bord langs ‘n Florida hoofweg. Die bord het ‘n prentjie gegee van vier voete wat onder ‘n kombers aan die onderkant van die bed uitgesteek het. Daar was geen twyfel omtrent die betekenis van hierdie voorstelling nie. Die woord ‘seks’, wat ook deel van die advertensie was, was duidelik oorbodig. Nou wat het hulle verkoop? ‘n Nuwe bordeel, pornografie, geboortebeperking of aborsie? Nee! Hierdie was ‘n kerk se advertensie! Dit blyk toe dat hierdie kerk drie soortgelyke advertensieborde opgerig het. Hulle is ook nie die eerste kerk wat van soortgelyke grafika en voorstellings gebruik maak nie.

Die leraar van die kerk het verduidelik dat hulle besig was met ‘n Bybelstudie reeks: “God wil hê dat jy wonderlike seks moet hê”! (Vergeet maar dat God jou eintlik van die hel wil verlos). Hoe regverdig hy die goedkoop maak van die Evangelie? “Dit werk” was sy antwoord. Hierdie kerk, wat maar ‘n paar maande gelede tot stand gekom het, is reeds op die uitkyk vir grond waar hulle hulle eie fasiliteite kan oprig sodat hulle uit die winkelperseel langs die pizza eetplek, waar hulle tans kerk hou, kan trek. Net ingeval jy dink dat hierdie ‘n geïsoleerde geval is en dat hierdie man dalk net ‘n bietjie van lotjie getik is en ‘n nuwe sekte tot stand bring – ‘n groot en goed gevestigde Baptiste gemeente het ‘n soortgelyke advertensieveldtog geloods. Dit blyk dat ‘n hele aantal “kerke” van soortgelyke advertensies op borde langs die hoofweë gebruik maak. Behalwe vir die suggestiewe grafika van die advertensie, het een van hierdie borde net die woord “barenakedtruthaboutsex.com” bevat. Ja, ek het die webtuiste besoek maar weens die eksplisiete aard van die titels van sommige van die “preke” daar gelys, kan nie enige van hulle hier herhaal word nie.(Gaan kyk maar self as jy my nie glo nie).

Ons weet almal dat seks verkope opjaag. Dit verkoop alles, van motorkarre tot die siele van mense. Ons weet ook dat die duiwel en die wêreld, van die begin van tye die mens se vleeslike begeertes gebruik het om hom in dwaling, sonde en hel in te lei. Baie van ons kan die sektes onthou soos “Children of God” of “The Family” waar hulle jong meisies gebruik het om voornemende sekte lede met seks in die sekte in te lok. Ons weet ook van verskeie ander sektes wat soortgelyke dinge gedoen het. Maar hulle was sektes en die “ware kerk” het op hulle neergekyk. Hierdie praktyke het egter klaarblyklik ook nou algemeen geraak binne die oënskynlik rein “kerke”. Wat erger is, is dat niemand ‘n woord daaroor sê of ‘n oog knip nie want is dit nie maar net nog ‘n geval van die doel heilig die middele nie? Hoe ver sal ‘n kerk gaan en hoe laag sal dit daal net ter wille van getalle, geld en mag? Die voor die hand liggende antwoord is dat daar geen perke is nie – doen wat ook al nodig is om hulle deur die deur te kry en om hulle te oortuig om hulle beursies oop te maak. Gevolglik het die voorspoed prediking vir rykdom en gesondheid, nou uiteindelik ontluik in die boodskap van “rykdom, gesondheid en seks”.

Mag God hulle, en ons gemeenskap genadig wees. Wanneer gaan die ware kerk wakker word en besef dat ons reeds erger is as Sodom en Gomorra? In daardie stede was die sondes in die strate – ons het die sondes in ons kerke ingebring en daarby is ons trots op ons moderne en vrygemaakte godsdiens. As God die mense van daardie twee stede vernietig het en ook die mense van Noag se tyd weens hulle boosheid vernietig het, dan moet die vernietiging van hierdie wêreld baie naby wees. Jesus het gesê: “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit” (Mat 5:13). Het ons ons southeid verloor? Hou die kerk steeds die verval terug? Ek dink nie so nie.

Wat kan ons doen? Wat is ons veronderstel om te doen? Eerstens het ons nodig om ons eie huis skoon te maak en voor ons eie deur te vee. Ek en jy moet by ons eie harte begin, daarna ons families en dan ons kerke. Ons het nodig om ‘n verskil te maak deur die mense te wees wat God ons geroep het om te wees: heilig – vir Hom opsy gesit om in alles wat ons doen, Hom te verheerlik. Noag en Lot het rein gebly en die Here het hulle uit hulle siek omgewings gered. Ons huise en families moet vestings van vrede en heiligheid wees waarheen ons bure kan vlug.

Ons moet bid. Die golf van onheil wat besig is om oor die kerke te spoel is in alle waarskynlikheid onstuitbaar, maar God is in staat om ‘n standaard daarteen te stel. Jesus het ons geleer om te bid dat God se wil sal geskied en dat Sy koninkryk sal kom. Ons moet daarvoor bid maar vir selfs nog meer. Ons moet bid vir die redding van kosbare siele. Mense word by die miljoene deur die valse godsdienste ingesluk. Ons moet vir hulle intree sodat hulle tot hulle sinne kan kom en gered kan word. Dit is tyd dat gelowiges vergeet van hulle snoesige, selfgerigte klein “Liewe Jesus” gebedjies. Hulle moet die Troon van Genade in ernstige smeking en trane stormloop. Ons moet vir onsself, ons families en ons kerke bid. Ons moet bid dat die Here ons sal gebruik om die sout en lig te wees wat Hy ons geroep het om te wees. Ons moet bid vir die ware gelowiges wat in die valse kerke vasgevang is en ons moet bid “Here stuur my”.

Derdens moet ons die evangelie verkondig, die Bybel leer en getuienis lewer soos nog nooit vantevore nie. Ons moet “[a]nder … red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet [ons ons] met versigtigheid ontferm; en … selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is [verafsku]” (Judas 23). Baie min gaan luister maar daardie paar wat wel luister het nodig om gered te word – en daardie verantwoordelikheid is joune en myne.

Vierdens moet ons die standaard van God se heiligheid handhaaf. Daarmee bedoel ek nie die Fariseërs se wettiesheid wat niks meer as ‘n uiterlike vertoon is nie. Nee, dit is ‘n ware heiligheid en ‘n Goddelike lewenswyse wat daarna streef om Hom te verheerlik in alles wat ons doen. Die grense het verdof en mense is nie meer in staat om te onderskei tussen reg en verkeerd, heilig en godslasterlik, en die evangelie en vleeslike begeertes nie. Maar die Here het soos altyd steeds ‘n oorblyfsel. Is ons deel van daardie oorblyfsel of het ons die knie voor die gode van hierdie eeu gebuig?