Ek het alleen oorgebly


Ek het dikwels predikers neerhalend hoor praat oor Elia se depressie toe hy gevoel het dat hy die enigste een is wat oorgebly het van diegene wat getrou was aan die Here (1 Kon 19:14). Dit kom vir my voor asof die meeste van hierdie predikers min simpatie gehad het met ‘n man wat enkele dae van tevore nog vuur vanuit die hemel geroep het en wat nou voor ‘n vrou vlug. Diegene wat neerkyk op hierdie moedeloos en neerslagtige profeet, verlustig hulle oënskynlik in hulle eie popularitiet en selfvoldaanheid. Dit is duidelik dat hulle nog nooit in die gat was waarin hierdie man van God hom bevind het nie. Hulle dink dat dit van hulle beter mense maak as wat hierdie man is wat oorweldig is deur eensaamheid en die seer van verwerping akuut ervaar.

Wat hulle klaarblyklik vergeet, is dat Elia nie die enigste was nie en nie uniek is in sy neerslagtigheid en eensaamheid nie. Amper elke man van God het hulleself op die een of ander stadium in ‘n soortgelyke toestand bevind.

Moses het die woestyn ingevlug en 40 jaar van sy lewe daaraan spandeer om ‘n trop skape op te pas … totdat al sy drome en enige hoop op grootsheid en ‘n blink toekoms gesterf het. Kan jy jouself die vrees, twyfel en frustrasie indink wat Moses moes deurworstel ten einde berusting te vind daarin dat al sy voorregte hom ontneem is en dat hy ‘n oënskynlik doellose bestaan as ‘n swerwer moes voer?

Job het openlik, hoofstuk na hoofstuk, aan sy frustrasie uiting gegee nadat hy alles verloor het, behalwe ‘n vrou wat hom oor sy teëspoed sleggesê het en drie “vriende” wat hom van allerhande denkbeeldige sondes beskuldig het.

As jy deur die profete van die Ou Testament lees, sal jy vind dat elkeen van hulle die pyn van eensaamheid ervaar het, terwyl hulle hulpeloos toegekyk het hoe almal rondom hulle die lewende God versaak en agter stom afgode aangeloop het. Nie een van hierdie mans was gewild nie en baie van hulle is deur die heersers van die dag in die tronk gegooi. Hulle is ook valslik beskuldig deur die hordes valse profete van daardie tyd. Baie van hulle is verbied om te preek en het dus voortgegaan en hulle profesieë neergeskryf.

Die gordyn van die Nuwe Testament open waar ons sien hoe Johannes die Doper met oortuiging die koms van die Messias verkondig. Maar kort hierna word hy in die tronk gegooi en sien ons hoe sy hoop en geloof stadig wegkwyn, tot op die stadium wat hy die vraag vra of Jesus inderdaad die Beloofde Een is wat sou kom (Mat 11:3).

Aan die einde van Paulus se bediening het hy tot die besef gekom dat hy en Timoteus die enigste van die baie predikers is wat oorgebly het, terwyl die res hulle eie belange gaan soek het (Fil 2:21). Na een van sy hofverskynings in Rome, moes hy baie soos Elia gevoel het, want hy sê: “Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie!” (2 Tim 4:16).

Ook die laaste van die Bybels profete het dit nie anders gehad nie. Johannes was verban en alleen op Patmos en in Openbaring lees ons dat die laaste 2 profete ook verwerp sal word en doodgemaak sal word in die strate van Jerusalem.

Selfs Jesus was die pyn van verwerping nie gespaar nie. Die een dag het Hy nog met duisende gespreek en daarby het hulle ook nog ‘n gratis ete uit Sy hand geniet. ‘n Paar dae later was Hy nog besig om in Kapernaum te preek toe mense begin het om van Hom weg te draai en Hom te verlaat, totdat later net die twaalf oorgebly het. Ek kan my net die moedeloosheid in Sy stem indink toe Hy vir hulle gevra het:  “Wil julle nie ook weggaan nie?”(Joh 6:67). Kan jy maar begin om die teleurstelling en verlatenheid in Sy oë te verstaan toe Hy omgedraai het om na Petrus te kyk wat Hom verloën het deur drie maal te ontken dat hy Hom selfs geken het? Terwyl Hy daar aan die kruis gehang het, het amper almal Hom verlaat en uiteindelik het ook Sy Vader Sy rug op Hom gedraai!

Elia het nie ‘n unieke ervaring gehad nie. Dit is ’n algemene ervaring vir elke man en vrou van die Here wat ons in die bladsye van die Bybel ontmoet. En dit is geensins anders vandag nie. Diegene wat vir die waarheid staan en dit spreek, is nie gewild nie en word dikwels belaster, verwerp en bejammer. Jesus het gesê dat dit so sal wees: “’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.” (Joh 15:20-21)

Daarom, wanneer predikers die neerslagtigheid en wanhoop wat soveel van ons voel, ligtelik afmaak, verklaar hulle doodeenvoudig daardeur dat hulle nie bereid is om in die voetspore te volg van die Een waarvan Jesaja gepraat het nie: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.“ (Jes 53:3)

Moenie toelaat dat hulle jou onderkry nie. Wanneer die aanklaer van die broeders probeer om jou te ontmoedig omdat jy nie gewild is nie en wanneer hy probeer om jou te laat skuldig voel, kan jy jouself daarin verheug dat jy waardig geag is om in Sy lyding te deel. (1Pet 4:13)

Dit is in die duisternis en leegheid van wanhoop, teleurstelling en verlatenheid waar ons werklik die Vriend ontdek wat nader aan ons is as ‘n broer. Wanneer ons om ons kyk en sien hoe mense van ons wegval en een vir een omdraai, kan ons bemoedig word deur Sy belofte:  “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Heb 13:5)

Ware Christene, en ware Christen leiers, is nie politieke figure wie se sukses gemeet kan word aan hulle gewildheid nie. Ons moet nooit toelaat dat so ‘n wêreldse ingesteldheid daartoe lei dat ons voel dat ons misluk het as ons nie die skares aan ons voete het nie. Ons suksesse word slegs deur Een bepaal en Hy kyk nie vir diegene wat die gewildste is nie, maar wel vir daardie wat die getrouste is.

Een van die vloeke wat vandag op ons kerke rus, is die standpunt dat ‘n prediker of kerk gemeet moet word aan hulle getalle en popularitiet. Dit was nog nooit God se maatstaf nie. Noag was maar een in ‘n hele wêreld vol mense. Slegs 2 uit 600,000 Israeliete het die Beloofde Land binne gegaan. Van die duisende wat vanuit Juda in Babilon was, het net drie nie voor die goue beeld neergebuig nie. Jesus se aardse bediening het net 120 mense in die bo-kamer opgelewer en Paulus en Timoteus was die enigste van ‘n generasie wat nie op hulleself gefokus het nie.

Dit is ook vandag nie anders nie. Wil jy graag hê dat almal rondom jou moet dink dat jy wonderlik is terwyl jy sodoende die kans staan om verwerp te word deur Hom wat jou geroep het? Of wil jy ook graag daardie intieme samesyn met die Vierde Man in die vuuroond beleef?

Ek weet dat die nie maklik is nie en nooit aangenaam is as iemand vir die hoeveelste keer van jou af wegdraai nie. Maar die Here is getrou en toe Elia tot die Here geroep het, het Hy hom tot hulp gekom en hom ontmoet. Die Here het Elia verseker, net soos wat Hy ons ook verseker, dat daar ander is wat ook getrou bly en wie die werk sal voortsit wanneer ons nie meer daar is nie (1 Kon 19:16).

Daarom … “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” (Deut 31:6)

Anton Bosch