Dienstyd
 

Dienstyd is ‘n term wat mense normaalweg gebruik wanneer hulle verwys na die tydperk wat hulle in diens was. Die dienstyd bepaal gewoonlik dan ook aspekte soos ervaring, beroep sekerheid, voordele en senioriteit. Hierdie beginsel vind in die meeste areas van die menslike lewe toepassing.

Daar is egter nie altyd eenstemmigheid oor hierdie beginsel nie. In Los Angeles is daar tans ‘n debat oor die dienstyd van onderwysers en die idee dat dit baie moeilik is om van ‘n slegte onderwyser ontslae te raak die oomblik as hy of sy op die voordele van ‘n lang dienstyd begin aanspraak maak. Een van die grootste besprekingspunte in die aanloop tot die huidige presidentsverkiesing in Amerika, is die vraag of ervaring, en ‘n langer dienstyd, ‘n persoon beter kwalifiseer vir die Amerikaanse presidentskap of nie.

In die Koninkryk van God word feitlik elke menslike beginsel en reël omgekeer en dit geld ook met betrekking tot dienstyd. Daar is baie Christene wat daarop aanspraak maak hulle geregtig is op ‘n sekere posisie in die kerk en in die Koninkryk (en selfs dat hulle geregtig is om hemel toe te gaan), op grond van hulle dienstyd as Christene. Hulle maak ‘n ernstige fout. In die Koninkryk van God is die tydperk van dienslewering feitlik van nul en gener waarde.

Dink aan die dag van Jesus se kruisiging. Waaroor dink jy was die Vader meer verheug – die dief wat Jesus na ‘n lewe van sonde en misdaad bely het, of Petrus wat daardie nag die Here verloën en van Hom weggedraai het nadat hy vir drie en ‘n half jaar saam met Hom was? Ons kan net die Here loof dat Petrus daarna tot bekering gekom het en Hom daarna vir baie jare vrugbaar gedien het. Feit bly staan, op daardie oomblik was die dief Petrus met ‘n ewigheid voor.

Die Jode wat nie in Jesus glo nie, kan (omdat hulle dan so ‘n lang ‘verhouding’ met God gehad het) nie aanvaar dat die heidene die Koninkryk enigsins voor hulle sal binnegaan nie. Maar dit is die waarheid en selfs in Jesus se tyd was daar baie heidene wat geglo het, terwyl die Jode nie geglo het nie. Toe Hy met die priesters en ouderlinge gepraat het wat gedink het dat hulle geregtig is om die Koninkryk binne te gaan weens hulle lang verbintenis met God, het Jesus gesê: Dit verseker Ek julle: “Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in” (Mat 21:31).

Een van die gelykenisse waarmee Christene dikwels worstel is die een van die grondeienaar wat die werkers wat hy gehuur het, almal dieselfde betaal ten spyte van die feit dat sommige twaalf ure gewerk het en ander slegs vir die laaste uur in diens geneem is. Die les van hierdie gelykenis is “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste” (Mat 20:16). Wat ons egter uit hierdie gelykenis leer is dat God diegene gebruik en seën wie Hy wil. Hy is nie gebonde aan ons sin vir geregtigheid nie maar aan Sy eie. Vir die wat twaalf ure gewerk het, kom dit onregverdig voor dat hulle dieselfde loon kry as die wat net een uur gewerk het. Tog het hulle almal met die grondeienaar ‘n ooreenkoms aangegaan dat hulle vir die gewone dagloon sou werk en dit is presies wat hy hulle betaal het. Gevolglik was hy geensins onregverdig nie. Elkeen is dit betaal waarop ooreengekom is.

Paulus erken self dat hy “die ontydig geborene” (1 Kor 15:8) was. Hy het ten minste vier jaar na die Twaalf begin, en toe hy eers gered is, het almal op hom neergesien as die wysneusige groentjie. Maar hy het almal oortref in begrip, invloed en bruikbaarheid. Petrus kon maklik gevoel het dat hy ingedoen is omdat hierdie laatkommer meer as hy gebruik is, maar hy het besef dat God vir Paulus op ‘n unieke wyse gebruik het en hy het Paulus daarom liefgehad.

Ten spyte hiervan is daar baie Christene wat op hulle jare van diens steun as basis vir spesiale behandeling, gesag of senioriteit. Ja, hulle het miskien die Here vir baie jare getrou en fluks gedien maar hulle het vet, lui en arrogant geword. Al die jare van diens word tot niet gemaak as jy nie volhou om die Here en Sy kerk getrou te dien nie. Ons kan nie skiet gee of dink dat ons dienstyd sal opmaak vir dit wat ons nou nie meer doen nie. Baie van die Here se ouer diensknegte raak ontevrede en vyandiggesind teenoor nuwe mense wat meer deur die Here gebruik word en meer geseënd is.

Dink aan al die skrifgedeeltes wat ons daartoe aanspoor om getrou te bly en te volhard. Die woord “endure” (volhard) verskyn meer as 111 keer in die engelse vertaling van die Bybel. Hier is maar net een vers: “Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word” (Mat 10:22). Volharding is die teenoorgestelde van “om diens te doen”. Volharding beteken “om getrou te bly tot die einde toe”. Om die Here te dien is somtyds dieselfde as om Everest te klim. Selfs al het jy hard gewerk en al die regte dinge gedoen, as jy opgee, skiet gee of ander belangstellings kry, net 10 meter van die kruin, dan was al die harde werk verniet en het jy nie jou doel bereik nie.

Paulus het hierdie beginsel verstaan en het teen die einde van sy lewe verklaar dat hy nie kan steun op dit wat hy reeds bereik het nie, maar dat hy moet volhou en voortbeur om die doel te bereik: “Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil 3:13-14).

Niks is vir my meer bemoedigend as die verhale van mense wat lank en getrou vir die geloof gestry het nie, diegene wat reeds in die herfs van hulle lewe is maar steeds volhou om die Here met geesdrif en toewyding te dien. Een van hierdie mans, wat my lewe diep geraak het, was broer Willie Burton. Na ‘n lewe van uiterste ontbering, terwyl hy in die oerwoude van die Kongo gepreek het, het hy volgehou om die Here tot aan die einde van sy lewe te dien. Ek het hom ontmoet die jaar voor sy dood op die ouderdom van 85. Hy het in Suid Afrika getoer en feitlik elke nag van die week gepreek. Na ‘n lang uitputtende dag van prediking het hy my, ‘n 17 jarige jong seun, laat een aand na sy kamer genooi waar hy met my gepraat het oor die prediking van die Woord. Hy het my aangemoedig om getrou te bly en vir my gebid. Hy het die beginsel verstaan dat daar geen aftrede of rus is voordat ons nie ons ewige rus ingaan nie.

Niks is egter meer hartseer as ‘n man wat eens die Here getrou gedien het, maar later in sy lewe moeg word en ander belangstellings kry nie. Of diegene wat glo dat hulle beheer gekry het oor die Here se erfenis omdat hulle op die een of ander wyse “gearriveer” het. Hulle is die slawedrywers wat op die rûe ry van diegene wat hulle veronderstel is om te dien. Predikers en Christene wat afgetree het vanuit die diens van die Here was nog altyd vir my ‘n raaisel. Wanneer hou die werk en ons bruikbaarheid op? Verseker eers wanneer die nag gekom het en Hy ons te ruste lê! Enige iets anders is ernstige pligsversuim.

Dit is waar dat ons jare van getroue diens ter sprake kom in ons beloning, maar die vraag is nie wat ons in die verlede gedoen het nie, maar wat ons vandag doen. Wanneer ‘n boom, wat vir baie jare goed vrugte gedra het, ophou om vrugte te dra, word dit afgekap want die boom se enigste doel is om vrugte te dra. Met ons is dit nie anders nie. Johannes die Doper het vir die Jode gesê: “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Mat 3:10).

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel” (Gal 6:9).

Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee” (Op 2:10)